Nuus
MEDIAVERKLARING
Datum: 1 Mei 2025
Onderwerp: Beplande EFF-optog na Kleinfontein – 'n Oproep tot Dialoog, nie Verdeeldheid nie
Dit blyk dat die EFF, ten spyte van ‘n onderneming deur ‘n afvaardiging om ‘n formele vergadering met Kleinfontein te reël, steeds van plan is om op 2 Mei 2025 na die kultuur gemeenskap van Kleinfontein op te mars.
Ons het ook ‘n brief aan die EFF gerig met ‘n beroep op dialoog eerder as verdeeldheid. Tot dusver het ons geen antwoord ontvang nie.
Verder wil dit voorkom asof die EFF beoog om tydens hul optog ‘n memorandum aan die Stad Tshwane te oorhandig. Dit bly egter onduidelik waarom die EFF dit nodig ag om teen Kleinfontein te betoog indien hul griewe by die Stad Tshwane lê – des te meer aangesien hulle, tesame met die ANC, Tshwane regeer.
Verskeie organisasies en individue het hul ondersteuning aangebied en aangedui dat hulle beplan om die gemeenskap in solidariteit te besoek tydens die optog. Ons bedank almal vir hul besorgdheid, maar bevestig dat die owerhede hul steun bevestig het en verbind is tot die veiligheid van die gemeenskap en eiendom. Beide die openbare orde-polisie en Tshwane Metropolisie sal teenwoordig wees.
Kleinfontein, wat privaat eiendom is, versoek dat alle media-personeel hul geldige persbewyse en positiewe identifikasie voorsien. Klik Media Registrasie vir aanlyn voorafregistrasie of besoek ons webwerf by www.kleinfontein.net.
Mediaregistrasie sal plaasvind by die besoekersingang vanaf 07:00 tot 09:00. ‘n Kort mediakonferensie sal om 09:00 plaasvind.
Stefan Wiese (HUB/CEO)
Namens die Kleinfontein gemeenskap
Tel: +27 12 802 1584 / Media@ Kleinfontein.net